2 Oktober 2023
President Cyril Ramaphosa sê hoewel goeie vordering gemaak is om die nagevolge van die Covid-19-pandemie te bestuur, ervaar miljoene Suid-Afrikaners druk weens ‘n ekonomie wat stadig groei, asook pryse wat steeds styg.
Ramaphosa skryf in sy weeklikse nuusbrief dat die ekonomie groter is as voor die pandemie, en dat die 2-miljoen poste wat verlore gegaan het grootliks herstel is.
Hy sê ondanks die goeie vordering veroorsaak die wêreld se sukkelende ekonomie, en Suid-Afrika se kragkrisis dat werksgeleenthede nie vinnig genoeg geskep word nie. Hy meen hoewel die regering reeds sedert Oktober 2020 met ‘n herstelplan begin het, hou hy vol dat samewerking nodig is om van dié planne ‘n sukses te maak.
Ramaphosa sê hy en van sy ministers het reeds vergaderings gehou met besigheidseienaars, asook vakbonde om meer nou saam te werk om die probleme in die land onder die loep te neem.
Hy sê die regering se skuld is té hoog, en dat dit gou besig is om die grootste deel van die regering se begroting te word. “Dit lei daartoe dat ons minder kan bestee op onderwys, maatskaplike kwessies, gesondheid en infrastruktuur.”
Volgens hom moet daar ‘n samewerking wees, nie net tussen die regering, besighede en vakbonde nie, maar ook met gewone landsburgers.