29 Januarie 2024
Die leier van die DA, John Steenhuisen sê hy daag president Cyril Ramaphosa uit om – soos hy dit stel – uit sy skuilplek te kom en dringend stappe teen adjunkpresident, Paul Mashatile te doen.
Steenhuisen het Ramaphosa tot Donderdag (1 Februarie) kans gegee om op te tree voordat hy ‘n dossier gaan vrystel waarin aangedui word dat Mashatile glo by verskeie korrupte aktiwiteite baat gevind het.
Mashatile is die afgelope tyd in die kollig nadat verskeie eiendomstransaksies uitgewys is waarby sy skoonseun, Nceba Nonkwelo, betrokke was, terwyl hy miljoene rand aan die Gautengse regering skuld.
Dit het ook aan die lig gekom dat die omstrede sakeman en vriend van Mashatile, Edwin Sodi, honderde-miljoen rand se kontrakte gekry het terwyl Mashatile die Gautengse LUR vir menslike nedersettings was.