30 November 2022
Daar is prima facie bewyse dat president Cyril Ramaphosa, as gevolg van die Phala Phala-aangeleentheid, deur die parlement in ‘n staat van beskuldiging geplaas kan word.
Só het die finale verslag van die artikel 89-komitee, wat vroeër vandag aan die parlement oorhandig is, bevind.
Die komitee, gelei deur afgetrede regter Sandile Ngcobo, is op die been gebring ná die African Transformation Movement ‘n klag gelê het dat Ramaphosa probeer het om die diefstal van buitelandse valuta op sy wildsplaas te verdoesel.
Die onafhanklike paneel het die diefstal op die president se Phala Phala-wildsplaas en die daaropvolgende gebeure ondersoek.
Volgens die verslag is daar wel genoeg bewyse dat Ramaphosa ‘n ernstige oortreding van die grondwet kon begaan het met betrekking tot dié diefstalvoorval.
Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, het in reaksie op die paneel se bevindings gesê dat Ramaphosa opsy sal moet staan.