Nuuskommentaar: 26 Oktober 2022
Deur: Werner Human
Daar was ʼn groot opbou na pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging oor die stappe wat sy administrasie sal doen ná ontvangs van die verdoemende verslag van hoofregter Raymond Zondo.
Die verslag, wat ses volumes en derduisende bladsye beslaan, is die grootste geboekstaafde aanklag teen die ANC-regering sedert 1994. Op ʼn manier is dit die bepalende oomblik van die Ramaphosa-era. As ʼn kandidaat wat in 2012 weer op die party-politieke toneel verskyn het ná ʼn uiters persoonlik winsgewende tydperk in die privaat sektor, het sy kandidatuur beloof om noodsaaklike hervormings in die ANC én in die land se sake teweeg te bring.
Daardie golf van optimisme en hoop het hy ten volle gery, maar selfs sy grootste aanvanklike aanhangers in die media het hom sedertdien afgeskryf – selfs ná die harde woorde wat hy op sy onlangse perskonferensie teen staatskapers laat val het.
Die stappe wat hy in reaksie op die Zondo-verslag aangekondig het, laat egter veel te wense oor. Kortom kom sy antwoord op staatskaping – wat sy oorsprong in die staat gehad het – daarop neer dat meer reëls, riglyne en gedragskodes vanuit die staat moet kom. Die ironie is dat “meer staat” benodig word om korrupsie van binne die staat te takel.
Opmerklik is sy getroue verdoeming van die “privaat sektor.” Dit moenie lyk of net die openbare sektor in sy planne se visier is nie, maar die privaat sektor ook.
Dit is hier waar ʼn belangrike onderskeid getref moet word. Korrupsie, bedrog en ander onwettighede in die privaat sektor moet natuurlik gepak word. In dié verband moet die veroordeling en vervolging van Markus Jooste, wat miljarde rande se skade aan onder meer pensioenfondse aangerig het, spoedig en met erns plaasvind.
Maar die privaat sektor waarna pres. Ramaphosa verwys, is misplaas omdat die privaat sektor se betrokkenheid by staatskaping volledig deel uitmaak van die staatsmasjinerie.
Dit sal verkeerd wees om staatskaping so volledig voor die privaat sektor se deur te lê omrede die tenderpreneurs voordeel trek uit wetgewing oor swart ekonomiese bemagtiging en hulle in staat stel om deur verkrygingsprosesse hul hande op belastinggeld te kry.
In sy boek, There is no Supreme Constitution, verwys prof. Koos Malan na die term “hibriede regeringsmag”[1]. Volgens Malan is die “hibriede regeringsbedeling” teweeggebring deurdat die kernregeringsfunksies nie op grondwetlike instellings – soos dit hoort – rus nie, maar op ʼn mengsel van staatsorgane, sakeondernemings en privaat individue.
ʼn Deurslaggewende instaatstellende voertuig is die ANC se kaderontplooiingsbeleid en die ANC-patronaatskap wat daarop volg en wat meebring dat aanstellings in die staatsdiens, bevorderings, dienslewering en opgeblase staatstenders uiteindelik die samebindende faktor is wat ʼn weerstandige lojaliteit teenoor die ANC-regime daarstel.
Dit is hierdie resep wat Ramaphosa weier om te laat vaar. Sodoende word hierdie onhoudbare stand van sake in werklikheid voortgesit.
Om dus die privaat sektor in die konteks van staatskaping te veroordeel, is misplaas en skuif bloot die stukke op die bord rond sodat dit op ʼn ander wyse nog kan voortgaan.
[1] Malan, K: There is no Supreme Constitution; p 99-p106