22 November 2022
President Cyril Ramaphosa en die voormalige minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize is as die twee kandidate vir die president van die ANC benoem.
Ramaphosa het 2037 stemme op hom verenig teenoor Mkhize se 916 stemme.
Die voorsitter van die ANC se verkiesingskommissie, oud-president Kgalema Motlanthe het ‘n kort ruk gelede die kandidate vir die ANC se top-ses bekend gemaak.
Verder is Paul Mashatile, Ronald Lamola en Oscar Mabuyane benoem as die kandidate vir die pos van adjunkpresident. Stanley Mathabatha, Gwede Mantashe en David Masondo is benoem as die kandidate vir nasionale voorsitter.
Die kandidate vir sekretaris-generaal is Mdumiseni Ntluli, Phumulo Masualle, en Fikile Mbalula.
Benjamin Chauke, Pule Mabe en Mzwandile Masina is as die kandidate vir tesourier-generaal benoem.
En vir die posisie van adjunk-sekretaris-generaal is Nomvula Mokonyane, en Fébé Potgieter benoem.
Die minister van toerisme, Lindiwe Sisulu, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, en die adjunk-president David Mabuza het nié enige benoemingslys behaal nie.
Die ANC sal na verwagting sy nuwe leierskap in Desember op sy 55ste konferensie by Nasrec, in Johannesburg kies.