15 Februarie 2024
President Cyril Ramaphosa het vandag repliek gelewer op die debat oor sy staatsrede wat verlede week in Kaapstad gehou is.
Hy het benadruk dat miljoene mense in Suid-Afrika se lewens die afgelope 30 jaar vir die beter verander het.
Dit kom nadat verskeie parlementslede van die onderskeie politieke partye geargumenteer het dat Ramaphosa in ‘n droomwêreld leef, en dat die land nie so rooskleurig is soos wat die president dit beskou nie.
LEES OOK: STAATSREDE: “RAMAPHOSA LIG ANC SE SUKSESSE VAN DIE AFGELOPE 30 JAAR UIT”
Ramaphosa meen ondanks die onderskeie politieke partye se verskillende insae op die staatsrede, het geen parlementslid dit betwyfel dat mense se lewens sedert 1994 verander het nie.
Hy het erken dat daar talle probleme is, maar meen planne word gevolg om dit uit die weg te ruim.
Ramaphosa het intussen ook gesê dat Suid-Afrika bekommerd bly oor die situasie in Gasa.
Dit is waarom die land weer die Wêreldhof die afgelope week genader het om sy mag te gebruik om verdere bloedvergieting in Rafah te voorkom. Volgens Ramaphosa word dié oproep ook deur ander lande gesteun.
Hy sê selfs die lande wat teen Suid-Afrika se hofsaak teen Israel gekant was, doen nou ’n beroep op Israel om daaraan gehoor te gee en die aanslag op Rafah te staak.
LEES OOK: OPPOSISIEPARTYE TELEURGESTELD IN RAMAPHOSA SE STAATSREDE
Van die ander belangrike punte wat hy uitgelig het:
- Die werkloosheidsyfer in die land is steeds te hoog, en het erken dat beurtkrag talle sektore negatief beïnvloed.
- Die regering se plan om die kragkrisis hok te slaan vorder goed. Hy het ook verwys na die planne om die nutsdiens in drie dele te verdeel.
- Volgens Ramaphosa maak die regering vordering met die bekamping van korrupsie, deur wetstoepassingsagentskappe te versterk.
- Maatskaplike toelaes, wat ook deur talle opposisiepartye bevraagteken is, verlig volgens die president talle mense se armoede.
- Ramaphosa het verder benadruk dat grondhervorming wel sal voortgaan.
- 20 000 bykomende polisiebeamptes is op ‘n nasionale vlak aangestel.