Hoofstuk: 19 – 28 Augustus 2023
Geskryf deur die Hannatjie Bester van Radio Magaliesberg
Radio Magaliesberg is die eerste herleisender van Pretoria FM en vier sy dertigste verjaarsdag in Desember.
Radio Magaliesberg was van die begin af, toe die uitsendings nog van Kleinfontein gedoen was, baie nou betrokke by die stasie.
Finansieel het Pretoria FM aanvanklik baie gesukkel want die geld moes vanaf die publiek kom. Die Direksie van Radio Magaliesberg het besluit om te help. Die eerste Afrikaanse Musiekfees is aangebied te Samiklub, nou bekend as ThatchHeaven.
Twintig van ons land se top-sangers en boere-orkeste het van vroeg tot laat die duisende mense vermaak. Daar het nog Afrikaanse musiekfeeste gevolg.
En so het ons van musiekfees tot musiekfees die radio op die lug gehou.
‘n Voorstel het gekom vanaf Radio Magaliesberg dat ons ‘n fondsinsameling loods op ‘n Saterdag oor die lug, waar verskeie mense en besighede mekaar kon uitdaag vir fondse.
Die voorstel is voorgelê aan die Bestuur van die destydse Radio Pretoria en so is Vasbyt gebore.
Vanaf Brits het ons ‘n baie groot Vasbyt georganiseer by die munisipale gebou op die ou Checkersterrein in Brits.
Daar is destyds 8 telefone geïnstalleer wat die hele dag beman was vir fondsinsameling.
Verskeie sangers en boere-orkeste het opgetree.
Nog ‘n Vasbyt tesame met ‘n wildsete is aangebied by Klub Zanandi. Ons het ook ‘n skou gereël by Klub Zanandi met oor die 200 uitstallers. Vermaak is die hele dag aangebied. Fiesta was teenwoordig en die fees is uitgesaai op die Fiesta program op KykNET.
In 2014 was Radio Magaliesberg verantwoordelik vir die 21ste verjaarsdag viering van Pretoria FM te Kleinfontein. Daar was baie uitstallers, sangers en boere-orkeste wat die feesgangers vermaak het.
Nadat ICASA eensydig die tradisionele frekwensie van 106,6MHz aan ‘n ander radiostasietoegeken is Radio Magaliesberg in 2015 aangesê om uitsendings te staak.
Vir 5 jaar was Radio Magaliesburg van die lug af.
Ten spyte van alles, het wyle Chris Bester sy direksie gemotiveer om nie moedeloos te raak nie.
Hy het grond verkry as skenking van Mnr Cor de Jager en ‘n mas is opgerig na alle toestemmings verkry is en omgewingsimpakstudies voltooi is.
Bo-op Magaliesberg digby die Hartebeestpoort-kabelspoor sou die mas sonder lisensie verrys.
Ongeag enige realistiese vooruitsig op die toestaan van ‘n nuwe frekwensie het Chris Bester en sy span aanhou werk – sonder enige sekerheid of hulle werk iets sou beteken.
‘n Gebou is ook opgerig waarin alle toerusting gebêre kon word. Nog steeds kon ons nie die sein herlei nie en is die spasie op die mas verhuur aan twee internetverspreiders.
Na baie insette van Pretoria FM het ICASA in Desember 2019 bekend gemaak dat hulle weer ‘n frekwensie aan Radio Magaliesburg kon toeken
Willie Spies het ons geskakel terwyl Chris Bester op sy sterfbed gelê het, en die blye nuus meegedeel.
Chris Bester is ‘n paar dae later oorlede, maar die klanke van Pretoria FM leef voort danksy sy oudste en bes georganiseerde herleistasie Radio Magaliesberg, waarin Chris Bester sy nalatenskap steeds laat voortleef.
