18 September 2023
Deur: Flip Buys
‘n Gemeenskap se ideale word gedra deur sy media en uitgevoer deur sy instellings. Afrikaanse Radio is ‘n onmisbare stuk in die Afrikaanse media-legkaart, en dra sy gemeenskap se ideale tot in mense se harte. Pretoria FM as gemeenskapsradio speel die grootste rol hierin, omdat dit nie die Openbare uitsaaier en Handelstasies se rol is nie.
Pretoria FM is volksbesit. Dit beteken dat dit ‘n onafhanklike stasie is wat nie aan enige organisasie verbonde is nie. Die radio is die draer van die Afrikaner se ideale. Die Stasie is die afgelope jare deur ‘n omvattende proses van skeppende vernuwing, gegrond op beproefde waardes, en is gerat en gereed om sy roeping te verwesenlik.
Maar hoekom is Radio so uitnemend geskik om die draer van die Afrikanergemeenskap se ideale te wees? Hoewel daar baie redes is, kan die rol van radio kortliks in 12 punte saamgevat word.
Die12 rolle van Radio in die uitdra van ‘n ideaal
- Afrikaanse Leefwêreld:
Afrikaanse radio skep ‘n Afrikaanse leefwêreld vir sy luisteraars, waar hulle ook al mag woon of werk. Wat radio uniek maak is dat mense kan luister terwyl hul ry, werk of ontspan.
- Goedkoopste:
Radio is die goedkoopste manier om Afrikaans op groot skaal te bevorder, omdat die produksie- en verspreidingskoste veel goedkoper as Televisie of koerante is;
- Vermenigvuldiger:
Radio is die beste vermenigvuldiger vir Afrikaans, Afrikaanse instellings en Afrikaanse projekte. Afrikaanse skole kan openlik bevorder word, terwyl bestaande taalprojekte soos boeke, die kunste, musiek, en Afrikaans in die Professies met goeie dekking “vermenigvuldig” kan word. Die rede hiervoor is dat Radio bekostigbaar en beskikbaar is, en daagliks deur sowat 9 uit 10 volwassenes geluister word;
- Selfvertroue:
Die Radio het ten doel om die kulturele selfvertroue van luisteraars te versterk om Afrikaans te bevorder, soos om kinders na Afrikaanse skole te stuur. Radio maak die wonder van Afrikaans deel van sy luisteraars se leefwêreld, help ‘n liefde vir Afrikaans ontwikkel, en skep die taaltrots en taalwil om Afrikaans op ander lewensterreine uit te dra;
- Taalverskuiwing:
Dis die beste manier om Afrikaanse musiek te bevorder, en veral om te keer dat jongmense net na Engelse musiek luister en uiteindelik na Engels as taal oorskakel. Daarmee vervul Radio belangrike funksies soos inligting en Afrikaanse vermaak, wat taalverskuiwing teenwerk omdat luisteraars hierdie taalfunksies in hulle moedertaal kan geniet;
- Risikobestuur:
Gesien in die lig van die verengelsing van die kommersiële musiekstasies en die risiko’s wat by die SABC mag ontstaan, is Afrikaanse gemeenskapsradio ’n “broodsaak” vir Afrikaans;
- Grootse mediaprojek:
Pretoria FM beskik oor die grootste en sterkste nie-staats uitsaainetwerk wat verder aangevul word met internet-, selfoon- en satelliet-tegnologie, wat dit ’n radiostasie met besondere potensiaal maak. Saam met sy herleistasies, dek die radio ook die grootste opvangsgebied naas die Openbare uitsaaier. Daarom is Pretoria FM saam met Maroelamedia die belangrikste Afrikaanse mediaprojekte in baie jare;
- Taalgemeenskap:
Radio bind Afrikaners in een gemeenskap saam. Gemeenskapsradio staan met sy “gesig” na sy gemeenskap, ipv na die staat soos die Openbare uitsaaier of na kommersiële belange wat Engels bevoordeel soos die Musiekstasies. Die krag van Gemeenskapsradio is dat dit vraagstukke wat die kultuurgemeenskap raak kan aanspreek, omdat die Radio veel nader aan sy gemeenskap is as die Openbare uitsaaier. Die Radio kan byvoorbeeld makliker taalveldtogte voer of steun, en waardegedrewe projekte soos die behoud van Godsdiens in Skole steun wat nie vir die Openbare Uitsaaier moontlik is nie;
- Ekonomie:
Radio bevorder die Afrikaanse ekonomie, deur reklame en die ondersteuning van Afrikaanse besighede en Ondernemers. Dit kan ook Afrikaans in die ekonomie bevorder deur taalontwikkeling en deur Afrikaans deel van die sakewêreld te hou.
- Alle taalfunksies:
Radio bevorder Afrikaans in al sy funksies, vanaf die informele tot die hoër funksies;
- Volle funksionele taal:
Radio is ‘n onmisbare skakel in die bevordering van Afrikaans as volle funksionele taal, deur bv programme oor Afrikaans in die Reg of Afrikaanse mediese programme uit te saai, of die klem op Afrikaans in die Akademie te plaas.
- Reguleerder:
Die regulerende omgewing van Radio is veel eenvoudiger as op ander gebiede soos Afrikaanse Onderwys. Pretoria FM handhaaf sover moontlik goeie verhoudinge met die reguleerder, maar skram nie daarvan weg om onbillikhede in die howe te beveg nie. Pretoria FM laat Afrikaans kook, onder leiding van die Direksie, bestuur, en die professionele span van 40 energieke en geesdriftige radiomense!
Baie mense is bekommerd oor die toekoms van Afrikaans, maar saam met Totius in sy wonderlike gedig- Besembos- sê ons: Afrikaans leef en sal leef, sy doodkry is min!
Foto: Reint Dykema
