29 Augustus 2023
Die VF Plus sê hy verwelkom regulasies en gedragskodes vir munisipale raadslede, wat pas uitgereik is.
Dié regulasies bepaal onder meer dat raadslede wat munisipaliteite ontwrig en gemeenskappe aanhits tot onwettige optrede, voortaan vervolg moet word.
Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Thembi Nkadimeng, het die regulasies uitgereik in terme van die Wysigingswetsontwerp op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels.
Die VF Plus-LP, Michal Groenewald sê die regulasies bepaal nou uitdruklik dat raadslede wat gemeenskappe “aanhits tot gewelddadige protes” strafregtelik vervolg moet word. Dit sluit die aanhitsing tot stakings deur munisipale amptenare in.
“Daar word verder bepaal dat enige skade wat deur munisipaliteite gelei word weens raadslede se onwettige optrede, van sodanige raadslede verhaal moet word. Sulke skade kan voortaan ook nie afgeskryf word nie.”
Groenewald meen munisipaliteite ly reeds lank onder die optrede van veral ANC- en EFF-raadslede wat geweld aanstig vir politieke gewin.
Foto: Groundup/ Daily Maverick
