25 Januarie 2022
Die DA sê terwyl talle kunstenaars en atlete hulle inkomste verloor het weens die Covid-19-pandemie het die LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning in Gauteng, Mbali Hlophe na bewering R7-miljoen bestee aan ‘n sport toekenningsaand, wat net drie ure geduur het.
Die DA se skadu LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning in Gauteng, Kingsol Chabalala sê die party het vertroulik verneem dat dié reuse bedrag op die Gauteng Sport toekenningsgeleentheid spandeer is, wat aan die einde van 2021 plaasgevind het.
“Daar was niks besonders aan die geleentheid nie, met ‘n drie gang maaltyd, koeldrank of sap en slegs drie kunstenaars wat opgetree het,” sê Chabalala. Hy sê met dié bedrag kon R6000 in Covid-19-verligting aan 1166 sukkelende kunstenaars en atlete gegee word.
Hy sê die DA doen reeds baie lank ‘n beroep op die departement om sy begroting aan te pas sodat dienste gelewer kan word en mense ondersteun kan word, maar die geld word nou eerder bemors op “spog geleenthede.”
Volgens Chabalala is Byna R9,5-miljoen in die 2019/2020 boekjaar aan die toekenningsaand bestee. “Hoewel die DA die vereering van atlete ondersteun, omdat dit hulle aanmoedig om beter te presteer, kan die departement se “spandabelrigheid” nié aanvaar word nie.