10 Julie 2024
Die nuutaangestelde minister van openbare werke, Dean McPherson het bevestig dat nagenoeg R300-miljoen oor die afgelope 10 jaar in sy departement gesteel is.
McPherson skryf in ‘n verklaring dat hy besluit het om dié inligting bekend te maak sodat hy deursigtig kan wees met die publiek wat vir hom gestem het. Volgens hom was daar ‘n reuse voorval van kubermisdaad binne die departement van openbare werke.
McPerson sê namate die ondersoek deur die Valke, polisie en Staat Veiligheidsagentskap vorder kan dit aan die lig kom dat daar veel meer as R300-miljoen gesteel is.
In die jongste voorval het die kuberkrakers in Mei vanjaar sowat R24-miljoen gesteel. Volgens die minister is dit duidelik dat die departement ‘n maklike teiken was.
McPerson het benadruk dat daar opgetree sál word teenoor die skuldige persone, en dat hy nie sal toelaat dat sy departement ‘n sogenaamde speelgrond bly vir misdadigers nie. “Hierdie geld kon veel beter bestee word om infrastruktuur en Suid-Afrikaners se lewens te verbeter.”