Nuuskommentaar: 28 Maart 2023
Deur: Jaco Kleynhans
Protes is deel van die Franse kultuur. Die afgelope twee weke het een van die grootste protesbewegings in dekades in Frankryk stelselmatig gegroei totdat daar teen verlede Donderdag en Vrydag in meer as 200 dorpe en stede regoor Frankryk stakings, protesoptogte en selfs geweld uitgebreek het. Die Britse koning se besoek vandeesweek aan Frankryk is selfs weens die geweld uitgestel.
In Bordeaux is die stadsaal aan die brand gesteek. Volgens Frankryk se minister van binnelandse sake is 903 brande die afgelope twee weke in Parys alleen gestig.
Die Franse president, Emmanuel Macron, het verlede Maandag ’n mosie van wantroue teen hom in die Franse parlement met slegs nege stemme oorleef. Volgens die nuutste peilings het driekwart van Franse kiesers nou ’n sterk afkeer in hulle president.
Reeds sedert Macron die eerste keer tot president van Frankryk verkies is, het hy dit duidelik gemaak dat arbeidsmarkhervormings, insluitende ’n verhoging in die aftree-ouderdom in Frankryk, noodsaaklik is vir die gesondheid van die Franse ekonomie en in die besonder Franse mededingendheid.
Sedert Macron se verkiesing tot ’n tweede termyn net minder as ’n jaar gelede het hy die daad by die woord gevoeg om sy hervormings te implementeer. Macron het egter ook verlede jaar sy meerderheid in die Franse parlement verloor.
In Frankryk is wesenlike mag in die presidensie opgesluit. Die Franse president het meer uitvoerende mag as byvoorbeeld die president van die VSA. Dit skep gereeld omstandighede waar die president en parlement oor belangrike beleidsbesluite kan bots. Verlede week het Macron sy mag gebruik en die aftree-ouderdom sonder ‘n stemming in die parlement verhoog.
Terwyl die aftree-ouderdom in Italië 67 is, in Brittanje 66 is en in Duitsland tussen 65 en 67 wissel, was die aftree-ouderdom in Frankryk tot verlede week slegs 62. Met een geldeenheid in die Eurosone en ’n gedeelde mark ding Franse maatskappye die afgelope paar jaar binne Europa direk mee met produsente in veral lande soos Italië, Duitsland en Brittanje. Lae produktiwiteit en ’n baie lae aftree-ouderdom veroorsaak swakker mededingendheid, maar verhoog ook die pensioenlas in Frankryk sodanig dat dit die Franse regering se finansies toenemend in ’n krisis dompel.
Die Franse president kan as ’n globalis beskryf word – dus iemand wat Frankryk slegs as ’n onderdeel van ’n meer onderling gekonnekteerde wêreld beskou. Die afgelope twee weke het ’n meerderheid van Franse burgers, politieke partye, vakbonde en burgerlike organisasies egter bevestig dat hulle nie hiermee gemaklik is nie.
Dit sluit aan by die verkiesing van Donald Trump in 2016 in Amerika met ’n boodskap van “Amerika Eerste”. Die Brexit-referendum in Brittanje in 2016 was weer ’n “Brittanje Eerste”-uitslag. Elke keer het gewone burgers standpunt teen globalisme ingeneem.
Die werklikheid is dat Frankryk deel van die Eurosone en die Europese Unie is. Frankryk het reeds by die nuwe globalistiese wêreld aangesluit. Macron probeer om binne hierdie konteks die Franse regering se boeke te laat klop.
In verskeie opsigte gaan die huidige opstande in Frankryk dus oor meer as net die verhoging van die aftree-ouderdom met twee jaar. Dit gaan oor die nuwe spanning wat deur versnelde globalisering en ’n globalistiese wêreld tussen die belange van gewone landsburgers en internasionale finansiële, politieke en ander netwerke geskep is. Ons kan verwag dat hierdie spanning in Frankryk, maar oor die volgende paar jaar ook elders, gaan toeneem.