27 September 2022
Prof Richard Calland het vanmiddag in ‘n mediaverklaring bevestig dat hy homself onttrek van die artikel 89 komitee van ondersoek na die Phala Phala gebeurtenis waarby president Cyril Ramaphosa glo betrek word.
Calland is ‘n professor in openbare reg aan die Universiteit van Kaapstad. Hy het in sy verklaring aangevoer dat hy onttrek het omdat hy glo dat dit nie in die beste belang van die land is as hy op die komitee dien nie. Hy het die aantygings teen hom ontken dat hy partydig is.
Calland het die Good politieke party bedank dat hulle hom benoem het om op die paneel te dien en het die parlement sterkte toegewens met die ondersoek. Intussen het die woordvoerder van die parlement, Moloto Mothapo Calland se ontrekking bevestig.
Volgens hom het die speaker in die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula talle klagtes ontvang nadat Calland se aanwysing op die komiteel bekend gemaak is.
Advokaat Mahlape Sello is in Calland se plek aangewys as komiteelid.
Die DA, wat een van die partye was wat ontevrede met Calland se aanwysing was, het die nuus verwelkom. Die DA se hoofsweep, Siviwe Gwarube sê na druk van die opposisie het die speaker in die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula toegegee dat die aanstelling van Calland as deel van die paneel onregmatig was. Gwarube meen Calland se deelname aan die paneel sou meer skade as goed gedoen het.
Ook die EFF het die nuus verwelkom.