Nuuskommentaar: 22 November 202
Deur: Joost Strydom
‘n Gedeelde “Suid-Afrikanisme” word dikwels deur die liberale politieke of ekonomiese elite voorgehou as die enigste hekkie wat nog tussen Suid-Afrika en ‘n rooskleurige, wonderlike toekoms staan. Dit staan in die metafoor van konsolidasie, iets wat politici, en persone met reuse ekonomiese belange verstaan, waardeer en selfs na-jaag. Ondersteuners van hierdie konsolidasie-idee is meestal van mening dat indien alle Suid-Afrikaners gereduseer kan word tot een stel oortuigings, een stel politieke insigte, een stel staatgefundeerde onderwysbeginsels, met een stel uitkomste, Suid-Afrika se massiewe natuurlike hulpbronne en ons mensekapitaal in ‘n reuse sukses omskep kan word. So sal die eenheidstaat en sy samelopende reënboognasie uiteindelik tot sy reg kom, en alle probleme sal daarmee saam verdwyn.
Samora Machel kon hierdie geloof die beste verwoord met haar “for the nation to prosper, the tribe must die!”
Die holruggeryde ‘diversity is our strength’, die fondasie van die reënboognasie idee, word dan eintlik ‘n weerspreking inherent, want indien alle Suid-Afrikaners deel word van hierdie grys, moeilik definieerbare eenheid, is hulle van alle diversiteit en onderskeid ontneem. Die reënboog dan, is nie verskillende bane met kleur nie, maar eerder een grys baan.
Hoe kan ons wel duursaamheid in diversiteit vind?
Daar is ‘n sterk argument te make vir die krag van interne diversiteit. Diversiteit in identiteit.
In ‘n toenemend super gespesialiseerde wêreld word spesialisvaardighede deur verbruikers beloon. Die risiko’s daarvan om die leefwyse van spesialiteit na burgerskap, en die verantwoordelikhede wat daarmee saamloop, deur te trek, is legio.
Interne diversiteit, begin by iets so eenvoudig as veelvuldige identiteite binne een persoon. As voorbeeld kan een man gelyktydig, maar ook op verskillende tye, ‘n eggenoot, pa, besigheidsman, ensovoorts wees. ‘n Ma, gemeenskaprolspeler, suksesvolle entrepreneur en tuisteskepper op verskillende tye van dieselfde dag wees.
In die konteks van identiteit, en die groter prentjie van die land en sy mense, kan ons nou hierdie voorbeeld verder trek.
Indien ‘n persoon sy identiteit as Afrikaner moes opgee om ‘n Suid-Afrikaner te wees, of sy Christelike geloof moet tweede stel en die Suid-Afrikaanse grondwet as gesag bo sy geloof moet aanstel, lei dit tot ernstige interne spanning, iets wat Afrikaners (en ander minderheidsvolke in die eenheidstaat) deeglik ervaar. Afrikanerskap en Christenskap kan komplimenterend tot mekaar wees (en behoort te wees), en om van mense te verwag om een identiteit op te gee ter wille van ‘n ander is tipies die vereistes van ‘n totalitêre kommunistiese owerheid.
Duursaamheid, en die bestuur van interne (in die konteks van ‘n land, volk, gemeenskap of selfs gesin) wrywing kan juis gevind word in die ruimte vir verskillende identiteite in een persoon, gesin of groep.
‘n Staat wat mense dit probeer ontneem sal bevind hy kry juis die teendeel reg, en versterk baie keer die identiteite wat hy in ‘n sekere groep probeer onderdruk.
Gelukkig is gemeenskappe besig om hulleself te organiseer rondom gedeelde identiteite.
Hoe meer ‘stelle’ of vlakke van identiteit in ‘n groep homogeen is, hoe meer duursaam is daardie groep of gemeenskap. So vind gemeenskap krag in diversiteit, maar nie die tipe grys diversiteit wat op hulle afgedwing word nie.
Stem vir die Aitsa’s