15 November 2021
WAARSKUWING: Die video bevat kru-taal en kan sensitiewe kykers ontstel.
‘n Pretoria-man is in ‘n koma ná ‘n skietvoorval by ‘n gastehuis in Muldersdrift die afgelope naweek.
‘n Video van die skietvoorval word sedertdien wyd op sosiale medie versprei. Volgens die teen-misdaadaktivis, Yusuf Abramjee is die polisie ontbied nadat ‘n stryery glo tussen Len Cloete en die personeel van die gastehuis ontstaan het. Die onderonsie is na bewering aangevuur deur die feit dat die Cloete-egpaar en hulle vriende se kamers nog nie gereed was nie.
In die video kan gesien word hoe Cloete in die kop geskiet word.
Die Onafhanklike Polisieondersoek-direktoraat (Opod) stel ook glo ondersoek in. Volgens Opod het Cloete na bewering twee vuurwapens by hom gehad. Die direktoraat se woordvoerder, Grace Langa sê Cloete is glo deur die bestuur gevra om die gastehuis te verlaat voordat die polisie ontbied is.
Die privaat-ondersoeker, Mike Bolhuis en sy span is ook by die saak betrokke. Cecil Benade van Bolhuis se span, sê hul ondersoek is nog in ‘n vroeë stadium. Volgens Benade word Cloete in ‘n Krugersdorp-hospitaal behandel.
Sy vrou, Chantal Deidrè Cloete het op Facebook ‘n beroep op mense gedoen om vir haar man te bid.

Stem vir die Aitsa’s