2 Augustus 2021
Die polisie in Pretoria soek steeds na ‘n dokter – wat na bewering twee vroue by twee hospitale in dié stad verkrag en betas het.
Die 31-jarige man, wat glo as ‘n algemene praktisyn geregistreer is doen hom egter na bewering voor as ‘n ginekoloog. Die polisie sê ‘n saak is teen die man aanhangig gemaak, maar hy het intussen spoorloos verdwyn.
Die polisiewoordvoerder, kaptein Mavela Masondo sê hulle kan nie bevestig of die man wel ‘n geregistreerde dokter is nie omdat die saak op ‘n sensitiewe stadium is.
In een van die gevalle het ‘n vrou glo in Julie verlede jaar die privaat praktyk in dieselfde gebou as ‘n hospitaal in die stad besoek vir ‘n roetine ondersoek.
Die vrou het aan News24 gesê dat haar ginokoloog nie beskikbaar was nie, maar dat sy kollega op bystand was. Na die ondersoek het hy haar glo gevra om haar klere uit te trek, waarna hy haar betas het. Toe sy en haar kêrel later terugkeer, was die sogenaamde ginekoloog nie daar nie, waarna sy ‘n klag by die polisie aanhangig gemaak het.
Dieselfde dokter het na bewering tussen 2019 en 2020 nog ‘n pasiënt in ‘n hospitaal in Pretoria-Wes verkrag.
Die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid -Afrika (HPCSA) het aan News24 gesê dat die verdagte nooit as ‘n ginekoloog geregistreer is nie, maar eerder as ‘n algemene praktisyn. Hy is egter nie meer ‘n lid van die HPCSA nie omdat sy registrasie in Oktober 2020 verval het.
Hou Afrikaans op die lug