26 Augustus 2021
Pretoria FM moes in sy 28-jaar-bestaan ongeveer agt keer in die hof vir sy uitsaairegte veg. Nóg ’n klag is nou teen die stasie aanhangig gemaak.
Pretoria FM se direksievoorsitter en prokureur by Hurter Spies Ing, Willie Spies, sê die klagtes teen die stasie is nie ’n verrassing nie weens die vyandige omgewing waarin daar min verdraagsaamheid vir die Afrikaner-kultuurgemeenskap bestaan.
Die stasie staan egter nou weer voor ’n nuwe uitdaging: Sy reg om uit te saai na sy filiaalstasies word opnuut bedreig.
Dít kom nadat die kommersiële mediagroep, Primedia, die stasie by die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika, Okosa, verkla het. “Primedia bedryf twee Engelstalige kommersiële stasies in Gauteng, naamlik 94.7 (voorheen bekend as 94.7 Highveld Stereo) asook die geselsradiostasie 702 en twee in die Wes-Kaap, genaamd Kfm 94.5 en CapeTalk,” sê Spies.
Spies verduidelik dat die mediagroep se klagte by Okosa beweer dat Pretoria FM sy uitsaairegulasies oortree, omdat sy uitsendings ook na sy filiaalstasies uitgesaai word. Die beswaar is dat Pretoria FM in die proses onregverdig meeding met Primedia se multimiljoenrandse kommersiële Engelse dienste, soos 94.7 en 702.
“Hulle vra dat Okosa Pretoria FM opdrag moet gee om sy uitsendings te staak. Kragtens die uitsaaiwette sal Pretoria FM met miljoene rande beboet kan word as Primedia sy sin kry. Die klagte van Primedia sal op 23 September 2021 deur ’n spesiale klagtetribunaal van Okosa, onder voorsitterskap van ’n afgetrede regter, aangehoor word,” sê Spies.
Spies meen Pretoria FM moet dus weereens – soos hy die afgelope 28 jaar daaraan gewoond geraak het – sy regte voor ’n regter verdedig ná ’n klagte deur ’n magtige kommersiële, hoofsaaklik Engelse, mediamaatskappy. “Ons sal veg vir ons regte op elke platform denkbaar, totdat ons wen. Ons gaan die beste regspan moontlik bymekaar kry en ons gaan ons reg om Afrikaanse radio vir Afrikanermense aan die gang te hou en sterker te maak.”
Ons het egter u ondersteuning nodig om ’n regsfonds te bou wat ons in staat sal stel om by die kommersiële reuse, soos Primedia, kers vas te hou. “Ons kán dit doen met die ondersteuning van elke persoon wat glo dat daar ’n plek is vir Afrikaanse radio en dat Afrikanermense wel ’n bestaansreg in Suid-Afrika het.”
Om ons te ondersteun, stuur ’n teksboodskap met die woord “REG” na 47887 en ons sal jou skakel om jou ondersteuning te kry vir hierdie groot en bepalende regstryd. (R2 per SMS)
Hou Afrikaans op die lug