23 September 2022
Die onlangse ramp in Jagersfontein, waar die wal van `n myn se slikdam gebreek en die dorp oorspoel het, het mense regoor die land ten diepste aangegryp.
Die boeregemeenskap het reuse skade gelei met `n verlies aan vee en infrastruktuur. Baie van die weidingsveld in die omgewing moet ook gerehabiliteer word. Die landbougemeenskap het `n dringende behoefte aan voer, pype en watertenks gehad.
LEES OOK: LUISTER: JAGERSFONTEIN-INWONER VERTEL VAN OOMBLIK TOE SLIK DIE DORP INSTROOM
Pretoria FM het kort na die ramp `n noodfonds op die been gebring en luisteraars aangemoedig om bydraes tot dié fonds te maak. `n Bedrag van R100 000 is die week aan die Jagersfontein Boerevereniging oorbetaal.
Die voorsitter van Pretoria FM se direksie, Willie Spies, sê hulle is oorweldig deur die wyse waarop luisteraars tot die fonds bygedra het.
“Ons is almal ten diepste getref deur die gebeure in Jagersfontein en hoop dat die skenking sal help om die landbougemeenskap spoedig weer op hulle voete te kry. Pretoria FM poog deurlopende om gemeenskappe in nood by te staan en soos wat ons luistergemeenskap uitbrei sal ons voetspoor wat hulpverlening betref ook vergroot.”
LEES OOK: JAGERSFONTEIN: OORBLYWENDE SLIK IN MYNGAT GEPOMP
Die hoofredakteur van Pretoria FM se Klankkoerant-programme, James Kemp het vroeër vandag die skenking amptelik aan die voorsitter van die Jagersfontein Boerevereniging, Albertus van Schalkwyk, oorhandig.