1 Maart 2022
Die afgelope week moes aanhangers van verskeie Afrikaanse radio- en TV-nuuskanale hoor dat dié programme binnekort van die lug gaan verdwyn of aangepas gaan word.
Radio Sonder Grense (RSG) het verlede week aangekondig dat sy oggendnuusprogram, Monitor, wat tans elke weeksdag van 06:00 tot 08:00 uitgesaai word, nou met een uur verkort gaan word. Sy ander aktualiteitsprogram, Praat Saam gaan nié meer uitgesaai word nie.
LEES OOK: STUDIE: RADIO STEEDS ‘N GROOT BRON VAN INLIGTING EN VERMAAK VIR SA SE JEUG
Ook kykNET maak veranderinge aan sy nuusprogramme. M-Net se direkteur, Waldimar Pelser sê KN Verslag, wat aangebied word deur Heindrich Wyngaard en Suzaan Steyn, sal tot in Junie 2022 op die lug wees.
Rapport het die afgelope naweek berig dat eMedia Holdings, wat e.tv, eNCA en Openview besit gaan ook binnekort sy e.tv-nuus-en-sportkanaal op Openview sluit.
LEES OOK: OPVOLG: RAAD AANVAAR STUDENT SE AFRIKAANSE SERTIFIKAAT, HY MAG NOU REGISTREER
Pretoria FM se besturende direkteur en voorsitter van die direksie, Willie Spies sê die radiostasie neem met belangstelling kennis van ander media-instellings se besluit om veral hulle Afrikaanse nuus- en aktualiteitaanbod te verminder.
“Pretoria FM het die afgelope aantal jare juis sy Afrikaanse nuusaanbod uitgebrei met die loodsing van ‘n Facebook- en Youtube gebaseerde nuus om 19:00 saans asook ‘n naweekuitgawe van die gewilde Klankkoerant op Saterdae,” sê Spies.
Hy meen hierdie uitbreidings het juis gedurende die afgelope inperkingstyd plaasgevind terwyl alle media-instellings onder druk was. “Ons glo dat Pretoria FM se resep van Afrikaans-vriendelike, gesins-vriendelike, gebalanseerde en waarde-gebaseerde, plaaslike- en internasionale nuus vanuit uit ‘n Christelike perspektief en ideeraamwerk ‘n produk is wat steeds ‘n geweldige groot en en groeiende aanvraag het. Ons sal voortbou op ons groei- en ontwikkelingstrategie van die afgelope aantal jare,” sluit Spies af.