Hoofstuk 23 – 1 September 2023
Geskryf deur Lucia van Wyk
Verjaarsdae gee mens tyd om terug te kyk met die hoop dat die voetspore agter jou, jou genoeg hoop en moed gee om met motivering voort te gaan om nuwe voetspore te laat.
As ons terugkyk op die afgelope 30 jaar van die Radio, is daar diep, baie diep spore. Spore van moed, geloof en deursettingsvermoë. Spore van gewone mense, manne en vroue, wat die buitengewone, selfs vir ander, die onmoontlike, deur die genade bereik het.
Ons eer ons voorgangers se nagedagtenis en besef terdeë die verantwoordelikheid om die taak wat hulle begin het, voort te sit. Ons uitdagings lyk moontlik anders as hulle s’n, maar dit sal dieselfde moed, geloof en deursettingsvermoë vra. Mag ons nooit ons opdrag en taak versaak deur moedeloos te raak nie. Mag ons planne nooit opraak nie.
Radio is kommunikasie. Dit is iemand wat met jou praat, wat bekend raak, wat familie raak. Iemand wat daar is as jy alleen is. Dit bring mense saam, selfs oor ver afstande!
Waar Radio Pretoria ‘n beskeie beperkte begin gehad het, kon Pretoria FM se stem en voetspoor wêreldwyd uitgebrei word. Hoe wonderlik om tydens buitelandse besoeke, waar ook al in die wêreld, die bekende, geliefde stem te kan hoor.
Afrikaans, ons geliefde moedertaal, is die taal waarin ons leef, waarin ons lag, huil en bid, ook by die Radio. Mag ons ook in alles wat ons by en vir die Radio doen en kommunikeer, ons taal suiwer besig en die liefde en trots vir Afrikaans aan ons nageslagte oordra. Mag Pretoria FM se stem in suiwer Afrikaans voort leef in tye van vreugde asook hartseer, maar ook in gebed en die verkondiging van die Woord om die Koninkryk van God te help uitbou.
Die Radio verbind geslagte. Van my oupa wat op 18 September saam met die Radio verjaar het tot my seun wat saam met die Radio hierdie jaar 30 jaar oud is. Hy het met die Radio in die huis groot geword, want dit was die enigste radiostasie waarna ons geluister het. Elke jaar het ons saam verjaarsdag gevier. Eers vroegoggend oupagrootjie geluk gesê tot hy oorlede is en dan die Radio. Nou bly net die Radio oor met baie goeie herinneringe en nuwe herinneringe wat elke jaar bygevoeg word.
Afrikanervroue het nog nooit gehuiwer om Susanna Smit en vele ander volksmoeders se voorbeeld te volg in bereidheid om in woord en daad met geloof, kaalvoet oor die Drakensberge te loop nie.
Tannie Lucia van den Berg was beslis só ‘n Afrikanervrou. Ek was bevoorreg dat sy my pad, soos so baie ander mense s’n, gekruis het. Sy het egter nie jou sommer net laat verbygaan nie, so ook nie vir my nie. Sy was later van mening dat haar jare ver gevorder het en dat ek die aflosstokkie by haar by die Radio moet oorneem.
Die lede het saamgestem. Wat ‘n verantwoordelikheid en groot skoene om te probeer vul.
Gelukkig is daar ‘n sterk span wat voorloop en is dit ‘n voorreg om saam met mense wat dieselfde roeping en passie deel, aktief op ‘n beskeie manier by te dra tot die uitbou van die Radio se stem.
Deel van ons verantwoordelikheid is om die nageslag voor te berei, toe te rus en op te roep om betrokke te raak sodat hulle die aflosstokkie kan oorneem en in ons voetspore kan volg. As ons met trots en besef van verantwoordelikheid die aflosstokkie betyds aan- en oorgee aan die goed voorbereide nageslag, sal die Pretoria FM voort leef en steeds dieper en meer voetspore in mense se lewens laat.
Pretoria FM, hoop, glo en leef in Afrikaans deur ons wat gewillig ons roeping uitleef, terwyl ons afhanklik bly opkyk en aan die genade bly vasklou!
- Lucia van Wyk is die Uitvoerende Hoof van die Beweging vir Christelik-Volkseie Onderwys en ‘n lid van Pretoria FM se direksie.