Soggens met Sarina

Maandae tot Vrydae
10:00 - 12:00

Luister nou

Volgende

Pretoria, die Minister en ’n gebreekte motor

Hoofstuk 20 – 29 Augustus 2023

Geskryf deur dr Pieter Mulder

Dit is drie maande voor die 1994 verkiesing.

Ek is in my motor op pad na Johannesburg vir ’n SAUK televisiedebat. Die debat handel oor Radio Pretoria wat onwettig uitsaai. Langs die pad staan ’n motor met ’n pap band. By die motor staan Danie Schutte, die nuwe minister van Binnelandse Sake. Hy is die minister wat nie ’n uitsaailisensie aan Radio Pretoria wil toestaan nie.

Die televisiedebat vanaand is juis tussen ons twee. Moet ek hom oplaai en hom so help om by die televisieateljee uit te kom vir ons debat? Miskien moet ek hom eerder langs die pad los. Dan is ek vanaand alleen in die ateljee met meer tyd om my saak te stel. Terwyl ek aanry weeg ek die voor en nadele van die twee opsies op.

Hoe het ons by hierdie debat gekom?

Die SAUK het al die jare wat die Nasionale Party regeer het, die party blatant bevoordeel met eensydige pro-regering nuus en propaganda. Veral in die PW Botha-era asook in verkiesingstye, soos met die 1992 referendum, was die SAUK se eensydigheid skaamteloos.

Na oud-president FW de Klerk se 1990 toespraak waarin die ANC ontban is, was daar onmiddellik baie druk vanaf die ANC op die regering om groter toegang vir almal tot die uitsaaimedia te gee.  Die ANC was bekommerd dat hulle tydens die onderhandelinge en met ’n moontlike verkiesing, nie toegang tot die uitsaaimedia sou kry nie.

Die regering het prof. Christo Viljoen aangestel as voorsitter van ’n Taakgroep oor die Uitsaaidienste. In sy verslag, gedateer Augustus 1991)het hy aanbeveel dat nog televisie- en radiodienste op nasionale-, streek- en plaaslike vlak toegelaat moet word.

Hy het voorgestel dat dit met plaaslike gemeenskapradiodienste begin.

Op daardie tydstip was ek ’n opposisie-parlementslid en voorsitter van die Afrikaner Volksfront se Kommunikasiegroep. Ons het onmiddellik die moontlikhede van hierdie aanbevelings ingesien. Terwyl die regering die ANC hiermee probeer paai, kan ons dalk by die agterdeur inglip en so ’n geleentheid kry om vir die eerste keer self ons saak oor die radio te stel.

Omdat die NP regering huiwerig was om beheer oor die uitsaaiwese te verloor, was daar allerlei bepalings voor ’n uitsaailisensie toegeken is. So ’n uitsaailisensie is slegs vir ’n kort tydjie en vir ’n spesifieke geleentheid soos byvoorbeeld  ’n universiteit se jool toegestaan. ’n Laaste belangrike bepaling, wat vir ons probleme geskep het, was dat so ’n lisensie nie aan ’n politieke party toegestaan kon word nie.

Toe Ds. Mossie van den Berg se Afrikaner-Kultuurbond in September 1993 vir so ’n uitsaailisensie aansoek gedoen, was dit die vanselfsprekende antwoord op die behoefte aan ‘n Afrikaner gemeenskapsuitsaaidiens.

Die Tydelike lisensie is deur minister Schutte vir Saterdag 18 September toegestaan. 

Die lisensie was slegs vir ’n tydperk van tien uur vir ’n kultuur- en Bybel-verspreidingsgeleentheid.

Groot konsternasie het gevolg toe die radiostasie sy uitsendings op Maandag voortsit.

Dit was in die tyd van verset en weerstand teen die regering se duidelike oorgawe aan die ANC sonder enige werklike beskerming van die Afrikaanse taal of kultuur.

Met die eerste uitsendings van Radio Pretoria het Johannes van der Walt gepas die stasie beskryf as “ ’n stasie te velde.”

Dit was Tweede Vryheidsoorlog-taal.

Die radiostasie was wel in die veld op die plaas Donkerhoek opgerig.

In die parlement eis die Demokratiese Party die volgende week dat die minister onmiddellik optree teen Radio Pretoria wat so onwettig uitsaai. (Hansard 23 Sept 1993, kol 13921). Ek het aan die debat deelgeneem en gehelp reël dat die leiers van Radio Pretoria met die minister ’n afspraak kry om vir ’n verlenging van die lisensie te vra. Die minister het in sy antwoord in die debat hierdie afspraak as rede gegee waarom hy nie dadelik optree nie. (Hansard 23 Sept. 1993, kol 13966)

Die weiering om ’n uitsaailisensie toe te staan het uiteindelik op ’n hofsaak uitgeloop.

Regter Frikkie Eloff bevind, 20 Januarie 1994, dat Radio Pretoria moet sluit. Omdat ’n negatiewe uitspraak verwag is, het ons ’n groot byeenkoms by Donkerhoek beplan die middag na die uitspraak.

Meer as 7000 mense het opgedaag om die “stasie teen die regering en sluiting te beskerm”. Daar is selfs loopgrawe gegrawe!

Die volgende Woensdag 26 Januarie 1994 word ek genooi vir ’n SAUK TV-debat met die minister oor die onwettige situasie.

Dit is ’n moeilike debat nadat die hof ook teen Radio Pretoria bevind het. Ek slaag daarin om die onderwerp te verbreed na “vryheid van spraak.”  Met dit in my gedagte besluit ek om ’n u-draai te maak en die minister wel op te laai.

In my motor is hy verplig om saam met my na die onwettige Radio Pretoria uitsending te luister.

Hulle lees voor uit ’n boek van Wennie du Plessis oor Afrikanervryheid.

Met die begin van die TV-debat verduidelik ek dat ek so sterk in vryheid van spraak glo, dat ek die minister opgelaai het by sy gebreekte motor en hom vir die debat aangery het sodat kykers albei kante van die saak kan hoor. Maar dieselfde minister wil nou vryheid van spraak keer deur Radio Pretoria se uitsendings te keer.

Ek verwys na die duisende Radio Pretoria luisteraars en die 7000 mense wat die stasie wou beskerm. Die regering het sopas wette gebuig om ANC moordenaars, wat onskuldige kinders met bomme in inkopiesentrums vermoor het, vry te laat en amnestie te gee. Waarom kan hulle nie ook wette buig sodat almal wat wil uitsaai, kan uitsaai nie?

Die debat het goed afgeloop. Wat meer belangrik is, is dat alles saam ’n atmosfeer geskep het waarbinne Radio Pretoria toegelaat is om aan te hou tot ’n eerste uitsaailisensie later wel toegeken is.

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige professor in Kommunikasiekunde. Hy was 30 jaar in die parlement, onder andere lid van die Parlement se Kommunikasie Portefeuljekomitee en woordvoerder van sy party oor Kommunikasie sake.

KOOP NOU KAARTJIES – https://itickets.co.za/events/472390

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

Speelgoedgeweer

Kapers probeer polisiebeampte met speelgoedgeweer beroof

BEIJING, CHINA - MARCH 22:  President of Cameroon Paul Biya with Chinese President Xi Jinping (not pictured) attend a signing ceremony at The Great Hall Of The People on March 22, 2018 in Beijing, China. At the invitation of Chinese president Xi Jinping, President Paul Biya of the Republic of Cameroon will pay a state visit to China from March 22nd to 24th.  (Photo by Lintao Zhang/Getty Images)

Wêreld se oudste dienende staatshoof weer verkiesbaar

donald-trump-gettyimages-687193180

Trump-tarief: Wat hou die “oes” vir ons in?

Caster

Europese hof beslis dat Caster Semenya nié voorheen ‘n regverdige verhoor gekry het nie

WhatsApp Image 2025-07-07 at 09.22.41_0fbd3212

DA en die MK-party dien klagte in teen Mchunu

Ander Nuus Artikels

pexels-yungsaac-2119758
Skrikwekkende eetgewoontes onder SA studente
iStock-636725972-e1653556428313
Verdagte stroper se liggaam in Krugerwildtuin gevind
BEESTE-1
Nuwe uitbreking van bek-en-klouseer in die Vrystaat bevestig
Speelgoedgeweer
Kapers probeer polisiebeampte met speelgoedgeweer beroof
BEIJING, CHINA - MARCH 22:  President of Cameroon Paul Biya with Chinese President Xi Jinping (not pictured) attend a signing ceremony at The Great Hall Of The People on March 22, 2018 in Beijing, China. At the invitation of Chinese president Xi Jinping, President Paul Biya of the Republic of Cameroon will pay a state visit to China from March 22nd to 24th.  (Photo by Lintao Zhang/Getty Images)
Wêreld se oudste dienende staatshoof weer verkiesbaar

Soggens met Sarina

Maandae tot Vrydae
10:00 - 12:00

Luister nou

Volgende