6 Mei 2021
President Cyril Ramaphosa beantwoord vanmiddag vrae in die parlement.
Dit is die eerste vraag-en-antwoord-sessie van die tweede kwartaal, wat vroeër die week begin het. Die voorsittende beampte is die adjunk-speaker, Lechesa Tsenoli.
Die sitting het begin met die EFF-LP, Floyd Shivambu wat wou weet wie namens die ANC die parlementslede se vrae gaan beantwoord omdat president Ramaphosa “uit die party geskors is.”
Dit kom nadat die geskorste sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule gisteraand in ‘n verklaring aangevoer het dat sy adjunk, Jessie Duarte nié by magte is om hom te skors nie en dat hy vir president Ramaphosa “skors.”
Tsenoli meen die EFF het die inligting deur sy eie netwerk gekry en dat die parlement “nie weet waarvan Shivambu praat nie.”
Die president is ook veral uitgevra oor die regering se entstofprogram. Volgens hom is kontrakte gefinaliseer om genoeg entstofdosisse aan te koop om 41 miljoen mense in te ent.
Hy het benadruk dat die gebruik van die AstraZeneca entstof gestaak is omdat dit nie doeltreffend is teen die Suid-Afrikaanse variant van die Covid-19-virus nie.
Hy sê die Johnson & Johnson-entstof is volgens navorsing as meer doeltreffend gevind. President Ramaphosa sê Suid-Afrika wil ook entstof plaaslik vervaardig teen die huidige en toekomstige pandemies.
Die sitting duur voort.