29 Julie 2021
President Cyril Ramaphosa sê die aantal Covid-19-inentings wat toegedien word is besig om toe te neem en meen daar is tans meer as genoeg entstof-dosisse beskikbaar.
Hy besoek vandag ‘n gesondheidsgerief in Tembisa asook ‘n privaat kliniek in Midrand om te sien hoe die inentingsproses in Gauteng vorder. Volgens president Ramaphosa sal daar nié ‘n tekort aan Covid-19-entstowwe wees nie omdat daar tans ‘n goeie vloei van verskaffing is.
Sy stelling kom nadat die adjunk-direkteur-generaal van gesondheid, dr. Nicholas Crisp gesê het daar ’n landwye tekort aan entstowwe is wat volgens hom tot vroeg volgende week kan duur.
Volgens president Ramaphosa is hy ook trots op inentingsgeriewe se kreatiewe maniere om mense so gou moontlik in te ent. “Die waarnemende minister van gesondheid, Mmamoloko Kubayi-Ngubane het my vertel van ‘n inentingsfasiliteit wat deur-ry inentings aanbied. Mense hoef nooit hulle motors te verlaat nie.”
Hy het ook die privaatsektor bedank vir hulle groot bydrae om toe te sien dat mense vinniger teen Covid-19 ingeënt kan word.
Hou Afrikaans op die lug