24 Maart 2022
Die minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die poskantoor is nie te koop nie en veral nie aan die voormalige uitvoerende hoof, Mark Barnes, nie.
Ntshavheni het aan parlementslede verduidelik dat daar geen behoefte daaraan is om dié staatsinstelling te privatiseer nie.
Sy sê Barnes kon nie tydens sy vorige probeerslag daarin slaag om die poskantoor om te keer nie en het selfs sover gegaan om te insinueer dat Barnes die poskantoor gesaboteer het sodat hy dit later teen ‘n winskoop kan koop.
Die minister het gereageer op Barnes se openbare skrywe waarin hy aangebied het om die beherende aandeel in die sukkelende staatsentiteit te koop.
Barnes was die uitvoerende hoof van die poskantoor tussen 2015 en 2019, maar het bedank nadat hy en die regering nie langs dieselfde vuur gesit het nie.