7 April 2022
Die departement van kommunikasie en posdienste is besig om planne te finaliseer om die posbank na ‘n volwaardige voldiensbank oor te skakel.
Volgens die minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Khumbudzo Ntshavheni, sal die Suid-Afrikaanse Posbank-wysigingswetsontwerp binnekort aan die nasionale vergadering voor gelê word.
Ntshavheni sê die wetsontwerp het dit ten doel om die aandeelhoudingreëlings vir die Posbank te wysig deur aandeelhouding van die Suid-Afrikaanse Poskantoor na die regering oor te dra.
Dit sal geskied deur die skepping van ‘n nuwe bankbeherende maatskappy en om die stigting en registrasie as die Suid-Afrikaanse Posbank Beheermaatskappy te fasiliteer.
Terwyl die Posbank in staatsbesit reeds deposito’s aanvaar, word verwag dat die nuwe maatskappy volledige dienskenmerke sal bied en op die laer-inkomstegroep sal fokus.
Hoewel die nuwe Posbank in staatsbesit sal wees, vorm die proses nie deel van die ANC-regering se aankondigings dat ‘n staatsbank gestig moet word nie.