1 Augustus 2022
Die nasionale polisiekommissaris, generaal Fannie Masemola sê die polisie sal daarop fokus om meer sigbaar te wees.
Hy het vanoggend ‘n mediakonferensie gehou waarin hy die hoë vlakke van misdaad in die land bespreek het asook ‘n plan bekend gemaak het om misdaad te bekamp. Dit kom na ‘n vlaag van massa-skietvoorvalle, asook die verkragting van agt vroue in Krugersdorp.
Hy sê die meeste van die misdade in die land vind tussen Vrydae en Maandae plaas daarom sal die polisie sy sigbaarheid verhoog tydens naweke. Hy sê hierdie operasie sal in alle provinsies plaasvind.
Masemola het verder in reaksie op die verkragtingsvoorval in Krugersdorp gesê dat nog geen verdagtes verbind is met die verkragting nie. Meer as 80 verdagtes verskyn vandag in die hof, maar hulle verskyn in verband met die immigrasiewet.
Hy sê hulle is nog besig met die ondersoek om te bepaal of van hierdie 80 verdagtes aan die verkragtings verbind kan word. 22 mense, waarvan 12 vroue was besig met die verfilming van ‘n musiekvideo by die ou mynhope in West Village toe agt van hulle glo verkrag is.
Masemola het verder die eerste vroulike adjunk-polisiekommissaris in die geskiedenis van die polisie, luitenant-generaal Tebello Mosikili aangewys.
‘n Provinsiale polisiekommissaris in die Noord-Kaap, generaal Koliswa Constance Otola aangestel.
Watch: National Commissioner updates the Nation on Measures to address crime picture in the country. https://t.co/9HzFU3t7BE
— SA Police Service 🇿🇦 (@SAPoliceService) August 1, 2022