21 Julie 2022
Die provinsiale polisiekommissaris in Noordwes, luitenant-generaal Sello Kwena het die voorval veroordeel waartydens twee mense byna beroof is in die Klerksdorp-middestad.
‘n Video van die voorval word tans wyd op sosiale media versprei. In die video kan gesien word hoe vyf verdagtes die man nader, waarna die man ‘n mes gebruik om homself en sy vrou in sy motor te beskerm. Die vermeende rowers loop dan doodluiters weg.
Kwena sê op hierdie stadium is geen klag by die polisie aanhangig gemaak nie omdat die slagoffer – volgens hom – geweier het.
Hy sê dit is hartseer omdat dit die tweede soortgelyke voorval is van ‘n slagoffer wat nié ‘n klag by die polisie wil indien nie. Kwena het ‘n beroep op mense gedoen om hierdie tipe voorvalle aan te meld.
Hy sê die polisie in Noordwes is verbind daartoe om beamptes in landelike en stedelike gebiede in die provinsie te ontplooi.