28 Junie 2022
Die minister van polisie, Bheki Cele, sê dit is nie net korrupte polisiebeamptes wat by veediefstal betrokke is nie, maar dat sommige boere ook met dié beamptes saamspan.
Cele het op Parys – in die Vrystaat – gepraat tydens ‘n beraad oor landelike veiligheid.
Volgens die minister sal korrupsie op alle vertakkings van die landbousektor uitgeroei moet word.
Hy het ook in sy toespraak gesê daar moet meer aandag aan die verhouding tussen lede van plaasgemeenskappe – insluitend dié tussen boere en werkers – gegee word.
Die minister het verskeie kwessies bespreek soos rasseverdeling in sommige plaasgemeenskappe, die invloed van onwettige immigrante op die vermoë van wetstoepassers om hul werk te doen en die dringendheid om armoede in landelike gemeenskappe uit te skakel.