24 April 2023
Te danke aan vinnige polisieoptrede, gemeenskapsbetrokkenheid en gebede is twee vroue ongedeerd gevind nadat hulle gistermiddag op ‘n grondpad in Tshani Village, in die Oos-Kaap gekaap is.
Die 22-jarige Magdelaide Boshoff en die 23-jarige Jessica Mol was op pad terug na Lusikisiki waar hulle by die St. Elizabeth-hospitaal as fisioterapeute werk. Hulle het die afgelope naweek saam met ‘n groep jongmense gaan stap in die Tshani Village, noord van Koffiebaai.

Boersma. Regs op die foto is Jessica Mol. Die foto is geneem na
hulle veilig teruggevind is.
Magdelaide se pa, Attie Boshoff het aan Pretoria FM vertel dat die twee vroue in Jessica se motor gery het, maar moes sowat 10 kilometer van die Mdumbi Backpackers stop omdat klippe oor die pad geplaas is.
Hy sê vier gewapende verdagtes het die meisies uit die motor gedwing. “Die meisies het nie kaarte en kontant by hulle gehad nie. Hulle is toe saam met die gewapende verdagtes by ‘n koppie op om sein te probeer kry sodat geld met hulle banktoepassings na die verdagtes oorgeplaas kon word.”
Volgens Attie kon sy dogter daarin slaag om hulle ligging na die stapgroep se WhatsApp-groep te stuur, om hulle van die voorval in te lig.
Die gemeenskap het vinnig ingespring en ook drie polisiestasies van die voorval ingelig. “Nagenoeg 200 gemeenskapslede en polisiebeamptes was vinnig op die toneel.” Hy sê sodra hy bewus geraak het van wat gebeur het, het hy mense gevra om te bid. “Mense het landswyd en selfs in die buiteland begin bid vir die twee meisies.”
Hy sê binne daardie uur van gebede, en ook die twee meisies se gebede is hulle deur die polisie en gemeenskapslede gevind. Die verdagtes het van die toneel gevlug en word steeds gesoek.
Attie sê Magdelaide en Jessica is nie beseer nie, maar is uit die aard van saak geskok na die gebeure. Hulle selfone is gesteel.
“Magdelaide en Jess getuig van die krag van almal se gebede wat saam met hulle eie gebede hulle deurgedra het. Hulle het in ‘n stadium ‘n verandering in die verdagtes se gesindheid teenoor hulle ervaar. Ons kan net die Here dank!”