1 April 2022
Die VF Plus sê alhoewel die publiek se vertroue in die polisie laag is, verrig die polisie in Gauteng ook goeie werk soos met die onlangse inhegtenisneming van honderde mense vir ernstige misdade.
Tydens dié operasie, Kae Moloa, is 1250 verdagtes in hegtenis geneem wat verbind word met misdaad soos geweld teen vroue en kinders.
Die VF Plus se lid in die provinsiale wetgewer, Kobus Hoffman sê die oplettendheid van polisiebeamptes het ook gelei tot die inhegtenisneming van twee vermeende motorkapers Woensdag in Lilianton, Boksburg.
Hy sê hulle was in besit van polisie-uniforms, ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie. Hulle word ook verbind met ʼn motorkaping wat speurders van die Jeppe-polisiekantoor ondersoek.
Hoffman meen polisiebeamptes word dikwels gekritiseer vir hul onbevoegdheid en onvermoë om die veiligheid van Gauteng se inwoners te verseker, maar dit is onregverdig om alle polisiebeamptes oor dieselfde kam te skeer.
“Daar is wel baie beamptes wat doeltreffend is in die uitvoering van hul taak en die VF Plus bedank hulle daarvoor,” sê Hoffman.