20 Julie 2023
Paramedici en polisiebeamptes het vroeër vandag getuig oor wat hulle teëgekom het op die toneel by ‘n huis in Timaru, Nieu-Seeland waar Lauren Dickason glo haar drie dogtertjies vermoor het.

Die Dickason-gesin het kort voor die moorde op 16 September 2021 na Nieu-Seeland geëmigreer. Vandag is die vierde dag van Lauren se verhoor. Sy het erken dat sy haar kinders, Liané (6) en die 2-jarige tweeling, Karla en Maya vermoor het, maar voer aan sy is nie toerekeningsvatbaar nie weens haar geestesgesondheid.
Die polisiebeampte wat eerste op die toneel was, konstabel William Turnbull sê hy het met sy aankoms by die huis kabelbinders in die gang gevind wat aanmekaar geryg was. Hy het Lauren in een van die vertrekke aangetref. Sy het nog asem gehaal. In die swander vertrek was die drie kinders, hulle was reeds dood.
‘n Paramedikus wat ook op die toneel was, Alexandra Andrews het Lauren as katatonies beskryf, asof sy nie ten volle kon reageer nie. Sy is per ambulans na die Timaru-hospitaal geneem.
LEES OOK: “EK HET NÓÓIT GEDINK HAAR DREIGEMENTE SOU ‘N WERKLIKHEID WORD NIE,” SÊ GRAHAM DICKASON IN HOF
Die ondersoekbeampte, speurder Scott Genet sê hy het ook die kabelbinders op die vloer gevind. In die motorhuis was daar ‘n pakkie van 100 kabelbinders wat oop was. Hy sê ‘n bebloede lap is in die wasmasjien gevind.

Verder is verskeie verklarings in die hof voorgelees deur mense wat in die tyd voor die moorde met die Dickason-gesin te make gehad het. Isabella Kruger, wat in 2019 vanuit Suid-Afrika na Nieu-Seeland geëmigreer het, het Lauren op ‘n Facebook-groep vir mense in hulle situasies ontmoet.
“Lauren het gesê sy is gespanne, veral omdat sy haar haar kinders in ‘n goeie, Christenskool wou kry. Sy het ook vertel dat Graham aanvanklik vir die eerste ruk by die huis sou wees, maar dat hy vir ‘n paar ure per dag werk toe moes gaan. Dit was vir haar baie oorweldigend.”
Laetitia Smit van Pretoria, wat ook na Nieu-Seeland verhuis het, het in haar verklaring aangevoer dat Lauren depressief was asof ‘n donker wolk oor haar gehang het.
