Nuuskommentaar: 28 Oktober 2021
Deur: Jaco Kleynhans
Verlede week het ‘n paar belangrike dinge in Europa gebeur waarop ons as Afrikaners gerus ook kan let. Drie sake, wat op die oog af nie direk verband hou nie, het egter saam groot betekenis vir mense wat sterk voel oor die bewaring van die Christelike, Westerse beskawing in Europa, die VSA en elders soos in Suid-Afrika.
Verlede Dinsdag was die Europese Parlement in Straatsburg die toneel van ‘n klein oorlog binne die Europese Unie tussen die liberale leierskap van dié instelling en die regering van Pole oor die mate waartoe die EU en sy instellings sogenaamde universele-liberale waardes op lidlande van die EU kan afdwing. Die Poolse regering voel sterk daaroor dat elke EU-lidland ‘n groot mate van soewereiniteit moet behou en dat die EU nie Pole kan verplig om van sy waardes, beginsels en identiteit weg te stap nie.
In Hongarye is die 1956-revolusie verlede week herdenk. Na die Tweede Wêreldoorlog het die Sowjetunie aanvanklik toegelaat dat Hongarye ‘n demokrasie daarstel. Teen 1946 is ‘n demokratiese verkiesing in Hongarye gehou en die kommuniste, wat noue bande met die Sowjetunie gehad het, kon net daarin slaag om 17% van die stemme te kry.
Binne enkele jare het die kommuniste egter instellings soos die howe, universiteite, skole en selfs kerke begin oorneem en het die veelparty demokrasie teen 1949 tot ‘n einde gekom met die kommuniste se kaping van al die belangrike gemeenskaps- en regeringsinstellings.
Tussen 1949 en 1956 het die kommuniste in Hongarye, met die hulp van die Sowjetunie, alles in hulle vermoë gedoen om die Hongaarse samelewing radikaal te transformeer. Kerke is onderdruk, plase is onteien en groot industrieë is om die stede ontwikkel wat tot ‘n groot stedelike werkersklas aanleiding gegee het. Deur die skole en universiteite is jongmense geïndoktrineer.
In Oktober 1956 het die Hongare in opstand gekom maar die Sowjetunie het op 4 November met geweld die revolusie onderdruk en ‘n kommunistiese bestel is weer ingestel. Sowat 2500 Hongare is dood en 200 000 het na die Weste gevlug.
Verlede Donderdag het die Russiese president Wladimir Poetin een van die belangrikste toesprake deur ‘n wêreldleier die afgelope tyd, tydens ‘n internasionale konferensie in Sochi gelewer.
Poetin het in sy toespraak sterk parallelle getrek tussen wat in 1917 met die Russiese Revolusie gebeur het en wat tans in Westerse lande gebeur. Poetin het verwys na die wyse waarop die sogenaamde kritiese rastoerie en ekstreem linkse ideologieë op mense afgedwing word en Westerse lande ‘n obsessie met die implementering van nuwe diskriminerende praktyke ten gunste van minderhede ontwikkel.
Hy het ook verwys na die oorname van universiteite, skole, howe en ander instellings deur linkse ideoloë in Westerse lande. Hy het dit met die Bolsjewiste wat na die Russiese revolusie ook identiteit, geloof en waardes wou uitwis vergelyk. Poetin het ‘n sterk boodskap gelewer dat Rusland die Christelike geloof en konserwatiewe waardes sal bly beskerm.
Pole en Hongarye se historiese belewenisse en Poetin se vergelyking tussen die Bolsjewiste en hedendaagse Westerse linkse ideologie wys alles op die oorname van totalitêre denke wat uiteindelik geloof, kultuur en identiteit verwoes. Wat tans in Westerse lande gebeur is selfvernietigend. Pole, Hongarye en Rusland kan gerus dopgehou word in die stryd om die behoud van Westerse Christelike leefruimtes en waardes.
Stem vir die Aitsa’s