Nuuskommentaar: 22 Februarie 2023
Deur: Jaco Kleynhans
Met Rusland se militêre inval verlede Februarie in Oekraïne het min internasionale leiers verwag dat die oorlog ’n jaar later steeds sou voortwoed, met groter veiligheidsrisiko’s vir die hele Europa, steeds uitkringende globale ekonomiese implikasies en geen einde in sig of poging deur enige betrokke party om vrede te bewerkstellig nie.
’n Jaar nadat Russiese tenks en meer as een honderd duisend Russiese soldate die grens tussen Rusland en Oekraïne oorgesteek het, is dit nodig om terug te kyk na die oorsake van die oorlog maar ook die gevolge deeglik in oënskou te neem.
Soveel as 200 000 mense, die meeste soldate, het die afgelope twaalf maande in hierdie bloedige oorlog gesterf. Oekraïne se ekonomie is ’n derde kleiner as ’n jaar gelede en die land se infrastruktuur, veral in die ooste en suide, is grootliks verwoes. Tientalle dorpe en stede is ook byna heeltemal vernietig met meer as vyf miljoen mense wat reeds moes vlug. Minstens een miljoen Russe, veral hoogs geskoolde individue, het Rusland oor die afgelope twaalf maande uit teenkanting teen die oorlog, of uit vrees om vir militêre diens opgeroep te word, verlaat. Rusland se ekonomie het verlede jaar met meer as 2% gekrimp en Rusland se begrotingstekort is steeds besig om groter en groter te word.
Wladimir Poetin se oorlog in Oekraïne was onnodig, ongegrond en dwaas. Dit was egter ook meer voorspelbaar as wat die meeste Westerse leiers wou glo. Oekraïne is ’n groot land, met ’n grens van byna 2 300 km met Rusland. Oekraïne wat deel van die Weste word, was nog altyd vir Poetin en die Kremlin onaanvaarbaar.
Sedert die verwydering van ’n pro-Russiese president in Oekraïne in 2014, was dit reeds duidelik dat Poetin nie ’n verdere verskuiwing van Oekraïne sou duld nie.
Waaroor was Poetin dan reg? Oekraïne was nog altyd, sedert sy onafhanklikheid in die vroeë 1990’s, een van die mees korrupte lande in Europa. Daarmee saam is daar wesenlik teen minderhede soos die Russe in die ooste en Hongare in die weste gediskrimineer. Poetin was ook reg oor die Weste se onbeholpe hantering van magsverhoudinge in Oos-Europa.
Verder was hy reg in sy bestekopname oor die ekonomiese gevolge van die oorlog vir Rusland. Tot dusver is die gevolge minimaal. Dat duisende Russiese soldate sterf, is ’n feit, maar Poetin het ook geweet dat die Russiese bevolking met beheermaatreëls en propaganda in toom gehou sou kon word.
Poetin was egter oor baie meer dinge verkeerd. Hy het sy eie weermag se vermoë oorskat. Hy het die Weste se steun aan Oekraïne onderskat. Hy het die omvang van nasionalisme in Oekraïne onderskat. Poetin is ’n imperialis wat Rusland se globale invloed en vermoë om hierdie invloed te handhaaf, totaal oorskat het.
Verlede jaar in Februarie sou ons kon sê iets moet gedoen word om ’n nuwe skikking tussen Rusland en die Weste te bewerkstellig. Poetin het die kanse vir so ’n skikking vernietig. Die enigste oplossing is nou ’n militêre oorwinning op die slagvelde van Oekraïne. Indien Rusland verloor, sal dié land meer gevaarlik en onvoorspelbaar raak. Indien Rusland wen, sal die veiligheidsituasie in die Baltiese state, Moldawië, Georgië en selfs Pole dramaties verswak. Die wêreld het weens Poetin se oorlog ’n baie gevaarliker plek geraak.