4 Augustus 2023
Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald sê hiedie week se slagting op plase en kleinhoewes – waarvan die jongste gisteraand by Randfontein – moet geen twyfel laat oor die gevolge van Julius Malema se opruiende uitsprake nie.
Groenewald sê deur aan te hou om sogenaamde “struggle”-liedere te sing en volgelinge op te sweep om boere en wittes te vermoor, gee die leier van die EFF self te kenne dat sy party niks anders is nie as ’n terroriste-organisasie is.
“Daar hoef ook nie ’n debat te wees oor die aanname dat Malema se uitsprake telkens ’n bloedbad van onskuldige mense tot gevolg het nie,” sê Groenewald.
In gisteraand se voorval by die Randridge-hoewes is ’n egpaar en hul twee jong seuns van agt en tien aangeval. ‘n AK-47-aanvalsgeweer is glo in dié aanval gebruik.
Volgens berigte is die man doodgeskiet en sy vrou ernstig gewond.
Hy sê dit is onaanvaarbaar dat die land se howe, instellings soos die MRK en die president van die land plaasaanvalle deur hul swye en versuim om op te tree, indirek kondoneer.
Volgens TLU SA was daar reeds 35 plaasmoorde in die eerste sewe maande vanjaar. Talle mense ernstig beseer en gemartel. Dit teenoor verlede jaar se 24 moorde in dieselfde tydperk.
