6 September 2022
‘n Skietgeveg tussen die polisie en vermeende plaasaanvallers het tot die dood van een verdagte gelei, terwyl ‘n tweede gewond – en in hegtenis geneem is.
Die polisie het vanoggend ‘n gesteelde voertuig naby Warmbad – Bela Bela – agterna gesit en terug geskiet toe die insittendes op hulle losgebrand het.
Die bakkie is in die vroeë oggendure tydens ‘n plaasaanval gebuit, en die polisie het na die voertuig begin soek nadat hulle inligting ontvang het dat die voertuig in die Warmbad-omgewing opgemerk is.
‘n 68-jarige boer, MG Richter is tydens die aanval – vroeër in die Dwaalboom-distrik – naby Thabazimbi – gedood en sy vrou aangerand.
Beslag is gelê op die gesteelde voertuig, vier vuurwapens, selfone, gereedskap en huishoudelike items.
Die twee aanvallers was vermoedelik vroeër op die plaas werksaam, en die moontlikheid word tans ondersoek om vas te stel of daar ander verdagtes ook by die aanval betrokke was.