15 November 2023
Die burgerregteorganisasie, AfriForum sê plaasaanvalle het in die derde kwartaal van die jaar met 21% toegeneem in vergelyking met plaasaanvalle in die tweede kwartaal.
Die afdeling vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum het gevind dat daar tussen Julie en September vanjaar 88 plaasaanvalle was, waaronder 13 plaasmoorde.
LEES OOK: VROU DOOD IN NOORDWES-PLAASAANVAL
In die tweede kwartaal, van April tot Junie is 73 plaasaanvalle, waaronder 23 moorde, aangeteken.
Volgens Jacques Broodryk, AfriForum-woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, is die aantal plaasaanvalle wat in die derde kwartaal aangeteken is, die meeste nog dié jaar.
“In die derde kwartaal van 2023 is ’n gemiddeld van nagenoeg 6,7 plaasaanvalle per week aangemeld – dit kom neer op sowat een plaasaanval per dag. Die data toon voorts dat ’n gemiddeld van minstens 2,33 aanvallers by elke aanval betrokke was in dié tydperk, terwyl daar minstens 127 slagoffers was. Bejaardes is ook duidelik die grootste teiken, met die oorgrote meerderheid van slagoffers wat ouer is as 60 jaar,” verduidelik Broodryk.
LEES OOK: VERSLAG: MEER AS 95% VAN ALLE PLAASAANVALLE EN -MOORDE STEEDS ONOPGELOS
Hy sê AfriForum het opnuut besef watter groot verskil goed georganiseerde gemeenskaps-veiligheidstrukture kan maak in die bekamping van misdaad.
Die polisie sal Vrydag die amptelike misdaadsyfer bekend maak.
