26 Julie 2021
Die VF Plus meen in ‘n verklaring dat ras nié die sondaar gemaak moet word vir die geweld in Phoenix in KwaZulu-Natal waar talle mense gesterf het nie, maar wel die “onvermoë van die polisie en die land se veiligheidstrukture om hul werk behoorlik te doen.”
Die party se leier, dr. Pieter Groenewald sê dit blyk duidelik uit president Cyril Ramaphosa se weeklikse skrywe waarin hy vra dat Suid-Afrikaners eerlik met mekaar moet praat oor ras, veral verwysend na die geweld in die oorwegend Indiër-woongebied Phoenix.
“Die VF Plus het al verskeie kere in die verlede gevra dat ’n ope gesprek oor ras moet plaasvind en dat die gesprek regstellende aksie (RA) asook swart ekonomiese bemagtiging (SEB) moet insluit.”
LEES OOK: SEWE VERDAGTES IN HOF NÁ PHOENIX-ONLUSTE
Groenewald meen die president moet nie nou agter rassisme skuil oor die gebeure in Phoenix nie. “Die werklikheid is dat die gemeenskap van Phoenix geen keuse gehad het as om homself te beskerm nie aangesien die polisie nie die vermoë gehad het om dit te doen nie.”
Hy sê niemand keer vergeldingsoptrede goed nie, maar die situasie in Phoenix moet in konteks van die gebeure daar gesien word waar veral die afwesigheid van die polisie ’n plofbare situasie geskep het.
Volgens hom sou die gebeure in Phoenix en KwaZulu-Natal nie plaasgevind het indien die polisie sy werk gedoen het nie. “President Ramaphosa moet die volle verantwoordelikheid aanvaar omdat hy toegelaat het dat onbevoegdheid die land se veiligheidstrukture lam lê,” sê Groenewald.
Hou Afrikaans op die lug