30 Januarie 2024
President Cyril Ramaphosa sê sy gewete is skoon wanneer dit kom by die Phala Phala-diefstal.
Hy het gereageer op ‘n vraag oor die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se saak teen Hazim Mustafa.
Dié sakeman sê hy het in 2019 $580 000 in kontant aan Ramaphosa se plaasbestuurder oorhandig. Dié geld is gesteel nadat dit in ‘n sitkamerbank versteek is.
Die SAID hou vol Mustafa het versuim om die geld behoorlik te verklaar toe hy Suid-Afrika binnegekom het. Volgens Ramaphosa het hy en die ANC reeds hulle kant van die saak gestel wat die Phala Phala-kwessie betref, en dat Mustafa nou sy kant sal moet stel.
Die president meen hy hoef nie verder antwoorde te verskaf oor waarom die geld in sy huis en nié in ‘n bank was nie, en dat sy gewete dus skoon is.
Hy sê hy is bewus van die feit dat opposisiepartye die saak teen hom sal gebruik tydens die verkiesing, maar dat dit hulle reg is om dit te doen. Volgens Ramaphosa het hulle genoeg antwoorde verskaf.