4 November 2024
Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering, SALGA, raam dat munisipaliteite gesamentlik meer as R8,6-miljard per jaar aan inkomste uit voorafbetaalde elektrisiteitsmeters verloor waarmee gepeuter is.
Dit is onthul deur die adjunk-direkteur-generaal by die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, Kevin Naidoo.
Hy het tesame met verteenwoordigers van SALGA en Eskom die portefeuljekomitee ingelig oor die vordering wat gemaak word met die oorskakelingsprojek om verouderde programmatuur by voorafbetaalde meters op te gradeer.
Volgens Naidoo het eThekwini (Durban) die meeste meters waarmee gepeuter is, gevolg deur Nelson Mandelabaai, Johannesburg, die Tshwane-metroraad en Maluti-a-Phofung, in die Vrystaat.
Tussen 40- en 55% van die voorafbetaalde meters lewer nie ‘n inkomste vir die plaaslike owerhede nie.