17 April 2023
Die Tshwane-metro wil die jaar ’n 0% salarisverhoging aan sy personeel en raadslede gee.
Die metro se burgemeester Cilliers Brink het dit vandag aangekondig, as deel van die drastiese stappe wat gedoen gaan word om die metro se finansies reg te ruk.
Brink sê die stad se finansies is kritiek, maar herstelbaar.
Volgens die metro sal ’n 0% verhoging hom help om te voldoen aan die Nasionale Tessourie se vereiste dat hy sy uitgawes met 10% tot 30% moet verminder.
Die salarisrekening belooop tans sowat 39% van die stad se begroting.
Brink het ook gesê hulle het afgekom op verdere verdagte betalings wat die stad gemaak het met die omstrede PEU slimmeter kontrak.
Die kontrak met PEU is alreeds in 2016 beëindig, maar dit het nou aan die lig gekom dat die stad nog steeds BTW betaal aan die Suid-Afrikaanse Inkomste Diens, wat nie deur PEU betaal is nie.
Die bedrag beloop volgens Brink R4,7-miljard.
Hy sê die betalings aan die SAID is nie deur die voormalige hoof finansiële beampte bekend gemaak nie.