23 Mei 2024
Lede van AfriForum, gemeenskaporganisasies en inwoners van Parys, Tumahole en Schonkenville het vandag na die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se kantoor in Parys opgeruk.

Volgens AfriForum se bestuurder van plaaslikeregeringsake, Morné Mostert beskik die munisipaliteit nie oor die vermoë om veilige drinkwater aan die nagenoeg 50 000 inwoners van Parys, en omliggende gebiede te voorsien nie.
LEES OOK: AFRIFORUM-TAK HOU “BEGRAFNIS” VIR DIENSLEWERING IN PARYS
Mostert sê ‘n ingenieursverslag waarin daar uiteengesit word wat gedoen moet word aan die situasie, is ook vanoggend aan die munisipale bestuurder, dr. FP Mothamaha oorhandig.
In die Ngwathe-munisipaliteit se 2022/2023-jaarverslag wat in April vanjaar gepubliseer is, word daarin aangevoer dat “90% van alle inwoners in dié munisipaliteit toegang tot drinkwater het.”
Dit ondanks die Departement van Water en Sanitasie se Bloudruppelverslag van Desember 2023, waarin daar bevind is dat Parys power vaar in die voorsiening van skoon drinkwater.

LEES OOK: VF PLUS DRING AAN OP PROVINSIALE INGRYPING IN PARYS-WATERKRISIS
Mostert sê die organisasies eis dat toegang tot die watersuiweringsaanleg gegee moet word aan die gemeenskap en spesialiste sodat aanbevelings ten opsigte van wetlike voorvereistes gemaak kan word. Hulle vra ook dat die gemeenskap op ’n weeklikse basis oor die watergehalte ingelig moet word.
“Die swak gehalte van watersuiwering op Parys hou ernstige gesondheidsrisiko’s in.” Die munisipaliteit sal môreoggend met die onderskeie rolspelers oor die kwessie vergader.