1 Desember 2022
Die EFF, die UDM en die VF Plus het ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om onmiddelik te bedank, na afloop van die bevindings van die artikel. 89- onafhanklike paneel.
Die paneel het bevind daar is genoegsame bewyse dat Ramaphosa deur die parlement in ’n staat van beskuldiging geplaas kan word, weens die Phala Phala kwessie.
Volgens die paneel is die Grondwet en ander korrupsie-wette geskend “om die ondersoek na die diefstal van buitelandse valuta ’n geheim te hou”.
LEES OOK: “RAMAPHOSA KON ERNSTIGE OORTREDING BEGAAN HET,” BEVIND PHALA PHALA-PANEEL
Die VF Plus se leier, dr. Pieter Groenewald sê die bevindings laat geen twyfel nie dat verskeie strafregtelike oortredings moontlik gepleeg is en bring die integriteit van die kantoor én amp van die president in die gedrang.
Die EFF het op sy beurt gesê Ramaphosa moet bedank, om te verhoed dat Suid-Afrika verder in dieselfde geledere van ’n “kriminele onderwêreld” geplaas word.
LEES OOK: RAMAPHOSA ONTKEN SKULD OOR PHALA PHALA-KWESSIE
Die UDM sê die land kan nie bekostig om weer ‘n president te hê wat verdink word van ernstige wandade nie, en het ‘n beroep op die ANC gedoen om Ramaphosa te herroep. Die DA het kennis van die verslag geneem en sal later vandag ‘n mediakonferensie daaroor hou.
Ramaphosa het intussen herhaal dat hy ten sterkste ontken dat hy sy amp op enige manier oortree het, en ontken ook dat hy skuldig is aan enige van die bewerings wat teen hom gemaak word.
Die president het in ‘n verklaring gesê die gevolgtrekkinge van die paneel vereis noukeurige lees en toepaslike oorweging in belang van die stabiliteit van die regering en dié van die land.
LEES OOK: RAMAPHOSA GLO BEWUS VAN BUITELANDSE VALUTA OP PHALA PHALA
Hy sê die paneel se bevindinge bied ‘n “ongekende en buitengewone” oomblik vir Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie.