Huidige en voormalige parlementslede skuld die departement van openbare werke en infrastruktuur sowat R4-miljoen.
Dit het aan die lig gekom tydens ‘n vraag-en-antwoordsessie waaraan die minister van openbare werke en infrastruktuur, Dean Macpherson, in die Nasionale Vergadering deelgeneem het.
Macpherson het gereageer op die ANC se Carol Phiri, wat wou weet wat dié departement se sterk- en swakpunte is.
Hy het die departement se finansiële probleme – met inbegrip van ‘n R3-miljard oortrokke rekening – uitgelig, en gesê dat die teenswoordige stand van sake nie volhoubaar is nie. Die minister het nie oor die skuldoorsaak van LP’s uitgebrei nie, maar dit hou vermoedelik verband met die bestuur van amptelike behuising vir parlementslede.
Macpherson het verder gesê dat staatsdepartemente wat geboue by die departement huur, se skuld sowat R14-miljard beloop.