21 Julie 2022
Die departement van onderwys in Gauteng se aanlyn toelatingstelsel is vanoggend deur die LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi bekend gestel.
Volgens Lesufi is daar verskeie veranderinge aan die platform gemaak, wat dit meer gebruikersvriendelik sal maak vir ouers van voornemende graad 1- en 8 leerlinge om hulle kinders by skole te registreer. Dié stelsel het in die verlede talle probleme veroorsaak onder andere omdat ouers nie toegang kon kry nie of die feit dat kuberkrakers die stelsel geteiken het.
Hy sê die departement is toegewyd aan hulle papierlose stelsel en poog daarin om alle aansoekdienste slegs aanlyn aan te bied. Volgens Lesufi sal dit help dat geen ouer in toue hoef te staan by skole nie.
Meer as 146 800 graad 1-leerlinge is verlede jaar deur middel van die stelsel in skole geplaas, gevolg deur meer as 201 000 voornemende graad 8-leerlinge.
Die stelsel open môreoggend om 08:00 en ouers van voornemende leerlinge het tyd tot 19 Augustus om hulle kinders te plaas.