8 Mei 2024
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sê dit sal meer as R500-miljoen kos om die komende verkiesing uit te stel.
Dit is vervat in dokumente wat die OVK by die Grondwethof ingedien het, teen ‘n aansoek van die nuutgestigte Arbeidersparty van Suid-Afrika wat onder meer wil hê dat die verkiesings uitgestel word.
Die Arbeidersparty voer aan dat hy nie die sperdatum kon haal om sy kandidatelys in te dien nie weens tegniese probleme met die OVK se aanlynportaal.
Volgens die OVK lê die skuld by die partye self aangesien hulle die indiening tot op die nippertjie uitgestel het en dat hulle stelsels nie foutief was nie aangesien die ander partye wel daarin kon slaag om hul dokumente in te dien.
Die aansoek word vandag saam met twee ander aansoeke oor die verkiesing, aangehoor.