Die organisasie teen belastingmisbruik (OUTA) het in ‘n formele voorlegging aan die parlement ‘n beroep gedoen dat gevaarlike skuiwergate in die Wet op die Vergoeding van Openbare Ampsdraers van 2025 reggemaak moet word.
Volgens OUTA se woordvoerder, advokaat Stefanie Fick, word gapings in die wet gebruik om ongebreidelde voordele vir lede van die uitvoerende gesag te bekom.
Een van die voordele, wat tot groot openbare verontwaardiging gelei het, was gratis water en elektrisiteit aan ministers en adjunk-ministers in hul amptelike wonings en die aansienlike uitbreiding van hul private kantore.
Dit het die belastingbetaler jaarliks meer as R87-miljoen gekos. Fick sê hoewel die voordele later teruggetrek is, toon dit hoe gebrekkig en toesigloos sulke sake hanteer word.
Sy sê OUTA ondersteun die nuwe wetgewing en beskou dit as ‘n geleentheid om die wanbesteting van openbare geld te verhoed.
Die organisasie beveel onder andere aan dat die parlement binne die volgende 30 dae oor veranderings aan die voordele vir ministers, adjunk-ministers en president Cyril Ramaphosa ingelig moet word.