16 Februarie 2023
Die Organisasie teen Belastingmisbruik, Outa het die hof met ‘n dringende aansoek genader om die regering te dwing om die nasionale ramptoestand oor die kragkrisis op te hef.
President Cyril Ramaphosa het tydens sy staatsrede gesê dat ‘n ramptoestand nou geld sodat die regering sekere stappe kan doen om die ligte aan te hou. Outa sê die regering se besluit om ‘n ramptoestand te laat geld was irrasioneel, arbitrêr en onwettig.
Die uitvoerende direkteur van Outa se aanspreeklikheidsafdeling, advokaat Stefanie Fick sê die kragkrisis is self deur die regering veroorsaak oor ‘n tydperk van 15 jaar. Volgens haar is daar reeds genoeg wette om die kragkrisis die hoof te bied.
Fick sê jare van wanbestuur kan nié as ‘n rede gegee word om ‘n ramptoestand af te kondig nie.