24 Oktober 2023
Huldeblyke stroom in vir die oud-Springbokhaker, Ewoud Malan wat vanoggend in die ouderdom van 70 oorlede is nadat hy met kanker gediagnoseer is.

Hy het vir die destydse Noord Transvaal-rugbyspan as haker uitgedraf en het in 1980 sy buiging as Springbok teen die Britse en Ierse Leeus gemaak. Dié wedstryd het op die Boet Erasmus Stadion in Port Elizabeth (Gqeberha) plaasgevind.
Die Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal het op hulle Facebook-blad hulde gebring aan Malan, wat in 1971 aan die skool gematrikuleer het. Volgens die skool was Malan die eerste Springbokspeler wat hulle opgelewer het.
Die Blou Bul-rugbyunie se president, Willem Strauss het sy medelye betuig met Malan se naasbestaandes.