15 September 2021
‘n Voormalige metropolisiebeampte, verbonde aan die Ekurhuleni Metropolisie is tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy omkoopgeld van ‘n motoris geëis het.
Die 49-jarige Mazulwandile Wilson Makaula is gevonnis nadat hy in die Vosloorus-landdroshof aan korrupsie skuldig bevind is.
Die woordvoerder van die Valke, kaptein Ndivhuwo Mulamu sê die voormalige beampte was in Mei, 2018 aan diens toe hy die motoris in Vosloorus voorgekeer het. Nadat hy die persoon se motor deursoek het, het hy R300 geëis sonder om enige redes te verskaf.
Die beampte het glo gedreig dat hy die motor in beslag sou neem indien die motoris hom nié betaal nie. Die motoris het vir hom R150 gegee waarna die beampte die uitstaande bedrag, later op dieselfde dag gesoek het.
Volgens Mulamu is die voormalige beampte destyds in Vosloorus in hegtenis geneem. Die hof het ook bevind dat hy nié ‘n vuurwapen kan besit nie.
Stem vir die Aitsa’s