22 Januarie 2024
Die VF Plus sê die brand wat ‘n groot gedeelte van Brakpan se biblioteek beskadig het kon voorkom gewees het as die “Ekurhuleni-metro in 2022 die gebou aan belangstellende individue of instansies verhuur het nadat ʼn nuwe biblioteek in 2017 in gebruik geneem is.”
Die VF Plus-raadslid in die metro, Riaan van Zyl sê die ou biblioteek, wat uit 1933 datteer, is Vrydagnag geplunder van waardevolle items en die buitemure is met graffiti ontsier.
Lede van die plaaslike buurtwag het die VF Plus Vrydagnag ingelig dat die gebou in ligte laaie is. “Toe ek op die toneel aankom was die nooddienste reeds besig om die brand te probeer blus,” sê van Zyl.
ʼn Saak van brandstigting word ondersoek. Van Zyl sê die ou biblioteek in Kingswaylaan is die tweede merkwaardige gebou wat binne jaar deur ʼn brand verwoes is. Die klubhuis van die rolbalbaan is in Maart verlede gedeeltelik deur ʼn brand vernietig.
“Dit is betreurenswaardig dat die Ekurhuleni-metro nie die ou biblioteek in Brakpan bewaar het nie en ook nie die gebou aan belangstellende individue of instansies, wat bereid was om die gebou te herstel en te bewaar, wou verhuur nie,” sê Van Zyl.